RAD Culture Zone

Our culture, our passion, our inspiration

Breyten Breytenbach Boekefees- Riana Scheepers

BBB 2013 Riana Scheepers

Riana Scheepers se lewe (tot dusver) was dramaties en opwindend, uitdagend, avontuurlik en romanties. In vyf dekades het sy oor die wêreld gereis, boeke gelees én geskryf, haar seuns met vreugde grootgemaak en ánder mense se kinders lief gemaak vir woorde. Sy het huise gerestoureer en bome geplant, verlore stemme oor die uithoeke van Suid-Afrika opgespoor en hul stories opgeteken.
Sy leef ‘n hoëfrekwensie-lewe – is dit omdat sy gebore is op ‘n dag wat deur die astroloë bestempel word as “Die Dag van Flambojante Enkelinge?” (9 Desember) .

Dr Riana Scheepers is in 1957 in KwaZulu-Natal gebore. Haar pa, ‘n spoorwegwerker, sterf in ‘n treinongeluk toe sy 6 jaar oud is. Sy leer, saam met haar verpletterde gesin, deeglik wat armoede en ontbering is; sy leer ook oorlewing, die kuns van vreugde – en die vreugde van kuns.
Reeds in haar vroeë tienerjare wen sy verskeie skryfkompetisies en redenaarskompetisies. Sy word vir twee agtereenvolgende jare aangewys as die beste redenaar in Noord-Natal. In 1975 word sy verkies as hoofmeisie van Hoërskool Vryheid. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Natal-kleure vir atletiek, swem en sierduik.
Al skrywende en swemmende en pratende berei die lewe haar voor vir ‘n beroep in die letterkunde.

In 1976 begin sy haar studies aan die UOVS in Bloemfontein. Sy behaal die grade B.A. Kommunikasiekunde, B.A. Hons en M.A. (Afrikaans), almal cum laude. In haar studentejare is sy primaria van haar koshuis (Wag-‘n-Bietjie) en voorsitter van verskeie studenteverenigings. In 1979 word sy tot die Sentrale Studenteraad van die universiteit verkies.
In 1997 behaal sy ‘n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.

Sy beoefen die beroepe van dosent (by die Universiteite van Zoeloeland en Kaapstad), skakelredakteur (by Tafelberg Uitgewers), en onderwyser (by Paul Roos Gimnasium). Sy begin ook haar gewilde kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke wat sedert die ontstaan daarvan talle pryswenner-skrywers opgelewer het. Sy skryf boeke en rubrieke, en word ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika met die skep van die hardkoppige, slim en dierbare karakter “Katriena”.
In 2002 trou sy met Johann Loubser en woon sedertdien op die historiese plaas De Compagnie naby Wellington.

Riana is ‘n produktiewe en veelsydige skrywer. Haar boeke is topverkopers, in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk, onder meer die ATKV-Prosaprys, FAK-prys, Eugène Marais-prys die ATKV-Kinderboekprys. Die Nederlandse vertaling van Blinde sambok, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004). In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk: Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk en kry die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar hele oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat haar bundel plaasverhale Die melkweg het ‘n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het, kry sy ‘n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap).

In 2008 kry sy die gesogte Rapport/ City Press Prestige-toekenning as Vrou van die Jaar.

Riana besoek reëlmatig die buiteland; as reisiger en skrywer of as akademikus. Sy is passievol betrokke by geletterdheidsprojekte en die begeleiding van opkomende skrywers. Sy is ‘n gewilde spreker wat dikwels optree as motiveerder en graag die rol van mentor vervul vir mense wat ‘n hupstoot in die lewe nodig het, veral vroue.

Haar lewe is ruim, veelsydig en opwindend. Sy is nie net skrywer nie, maar ook plaaswerker, geleentheidspreker, motiveerder, wynboer, restoureerder en aanbidder van die natuur. As wynboer is sy nou betrokke by die bemarking van De Compagnie se wyn en brandewyn, dien op die raad van verskeie instansies wat taalbemagtiging doen en die veranwoordelike gebruik van brandewyn promoveer. Voorts is sy passievol verlief op vervalle en beeldskone huise en verwaarloosde, historiese strukture. Saam met Johann, haar man, is hulle steeds besig om te restoureer: aan verlate volkshuise,’n hartbeeshuis, klipkrale, stalle, skure en ‘n spookhuis. Daarom woon sy ook in die Tankwa-Karoo in ‘n Karoohuis, en in die suide van Namibië in ‘n spookhuis.

Sy het twee seuns: Floris (‘n geöktrooieerde rekenmeester) en Adriaan (dramaturg en skrywer). Hulle is die twee perfekste kunswerke wat kunstenaar kán voortbring. Floris is getroud met Rita en hulle het ‘n seun, Dirk.

Riana is ‘n buitelug-mens wat verkies om haar vrye tyd deur te bring op die plekke op aarde waar daar min ander mense is.

Sy is gelukkig.

Januarie 2013

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: